Skool

Ek help vroulief met die rekordhouding vir haar graad twee klas. Die evaluasie vir die begin van die jaar wys beter belofte in wiskunde as huistaal. Die veld waar die meeste van hulle werk nodig het is, is lees, maar baie meer geen punt gevalle kom voor by die wiskunde waar analoog-tyd hantering die groot probleem is.

Met 35 in die klas gaan dit klippe kou neem veral vir die wat vir die tweede jaar in die graad is.

Dit lyk darem of al die ouers betrokke is aangesien almal die oueraand bygewoon het.

Ek is so bly myne is al klaar met skool en universiteit.

 

Winkelpoeding en die groot hardloop

Gister bring vroulief vir my ‘n bakkie gebakte poeding en vla van die naaste supermark af as spesiale bederf omdat ek gehelp het met die administrasie van die nuwe skooljaar.

Boeta was ek al spyt ek het dit ge-eet!! Dit het presies dieselfde effek as ‘n pakkie engelse sout op my maag te weeg gebring.

Dit het nie ‘n vreemde smaak gehad nie so ek vermoed die vla is nie toegelaat om te kook nie.

Enige iemand al dieselfde stel afgetrap by ‘n basaar of skolesport?

Moenie bekommer nie ek eet die soort kiem sommer dood

Oom-en-tante

In “Die Groot Boerekosboek” van Dine van Zyl

In die Overberg praat die mense van Oom-en-tante. Op ander plekke heet dit stamp-en-stoot. Dit is ‘n heerlike mengsel van droëboontjies en stampmielies met ‘n ruim porsie beesskenkel en ‘n varksooltjie of gerookte varklies daarby. Die sop en die vleis word apart bedien.

250 g (½ pakkie) stampmielies

500 g (1 pakkie) droë spikkelboontjies

1 kg beesskenkels (of een vir elke persoon) met murg

500 g gerookte varklies, in stukke gesny (opsioneel)

olie om in te braai

2 uie, fyngekap

3 ℓ water

250 ml (1 k) gekapte pietersielie

sout en peper na smaak

Laat week die stampmielies en droëboontjies oornag in water. Gooi die water die volgende oggend af en kook die stampmielies en boontjies 20 minute lank. Gooi die water weer weg.

Braai die beesvleis en varkvleis in kookolie in ‘n groot kastrol tot bruin. Skep uit en braai die uie tot deurskynend. Gooi die vleis terug in die kastrol, voeg die mielies en boontjies by, bedek met kookwater.

Laat die pot stadig prut vir ongeveer 3 – 4 uur, tot die boontjies en mielies goed sag is.

Voeg die pietersielie, sout en peper by en kook deur.

Skep die vleis in ‘n oondskottel, murg en al. Sit dit in ‘n oond en bak teen 180º C tot dit lieflik bruin is.

Bedien eers die sop en dan die vleis met die murgbene. Vars brood met baie botter en konfyt daarop word hierby bedien.

Wenk:

  • Die sout word eers aan die einde bygevoeg, anders kook die boontjies nie sag nie.

Vark roerbraai

Vickie de Beer

Genoeg vir 4

Bestanddele
10 ml (2 t) olyfolie
400 g varkfilet, in repies gesny (vra jou slagter om dit te doen)
sout en gemaalde swartpeper
1 rooi ui, in skywe gesny
1 knoffelhuisie, gekneus en fyn gekap
2 cm- vars gemmer, gerasper
1 soetrissie, ontpit en in repies gesny
1 wortel, geskraap en in repies gesny
2 murgpampoentjies, in ringe gesny
6 knopiesampioene, in skywe gesny
1 blik pynappelstukke, gedreineer, maar behou die sap
10 ml (2 t) mielieblom
15 ml (1 e) sojasous
15 ml (1 e) balsemiekasyn
100 g (1/4 pakkie) Oosterse rysnoedels

Metode
Verhit die olie in ’n groot pan of wok. Geur die vleisrepies liggies met sout en peper en verbruin in die verhitte olie. Skep uit en hou eenkant. Soteer die uie in dieselfde pan tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, soetrissies, wortels, murg­pampoentjies en sampioene by en roerbraai tot sag. Voeg die pynappelstukke en varkvleis by. Meng die res van die bestanddele in ’n afsonderlike mengbak – ook die oorblywende pynappelsap. Voeg by die varkvleismengsel en roer oor lae hitte totdat die sous effens verdik. Sit voor met rys of noedels.

Appeltert

Bestanddele

1 koppie bruismeel                                  2 eiers

1 blik tertappels (normale grootte)    knippie sout

1 koppie suiker                                          2 eetlepels gesmelte botter

¼ koppie melk

Metode

Meng suiker, eiers, botter, sout en melk saam. Sif meel en meng bietjie-bietjie saam in suikermengsel. Gooi mengsel in bak en skep appels oor mengsel. Bak in oond op 180ºC vir ¾ uur. (na ‘n halfuur kan die oondtemperatuur na 150ºC verlaag word om te voorkom dat die tert te donker word)

Bestanddele Sous

1 klein blik ingedampte melk     1 teelepel vanilla             1 koppie suiker

Metode

Gooi alles saam in pot en bring tot kookpunt. Gooi warm sous oor tert sodra tert uit die oond kom.

Koffiekoek

170 g botter
170 g strooisuiker
3 eiers, geklop
170 g bruismeel
knippie sout
280 ml klaargemaakte sterk, swart koffie
suiker
280 ml room, geklop met suiker en 2 druppels vanieljegeursel
amandels, bruin gerooster
brandewyn

Stel die oond op 190ºC.

Room die botter en suiker in ‘n mengbak tot dit lig en donsig is.
Klop die eiers geleidelik by en vou die meel en sout by met ‘n metaallepel.
Skep die mengsel in ‘n gesmeerde koekpan van 20 cm in deursnee vir 40 minute.
Keer die koek uit wanneer dit gaar is en laat afkoel.

Meng die koffie en suiker tot stroperig en geur met brandewyn na smaak.
Plaas die koek op ‘n bord, deurweek dit met die koffiestroop en smeer toe met die room.
Versier die koek met die amandels