Suurlemoenpoeding

Suurlemoenpoeding          

 

3 eetlepels botter
½ koppie suiker
2 eetlepels suiker
die sap en gerasperde skil van een suurlemoen
500 ml melk
2 eetlepels meel
2 eiers, geskei

Klop die botter en ½ koppie suiker saam tot dit romerig is.
Klits die eiergele en voeg by die bottermengsel.
Voeg die res van die bestanddele by – uitsluitend die eierwitte.
Klits die eierwitte en vou dit dan by die mengsel.

Gooi die mengsel in ‘n oondbak en plaas die bak in ‘n pan warm water in ‘n 180ºC oond vir 45 minute.

Broodslaai

 

1 Witbrood  (Verwyder korsies en sny in klein blokkies)

1 Klein botteltjie agurkies (in skyfies gesny)

125 ml Kaasblokkies ( Feta of Cheddar)

Kookolie

 

Slaaisous

75 ml Suiker

5   Eiers (geklits)

75 ml Asyn

75 ml Water

5 ml Mosterdpoeier

45 ml Mayonnaise

45 ml Room of ongegeurde joghurt

 

Maak eers die sous.

Klits die suiker lepels-gewys by die eiers. Meng die asyn, water en mosterdpoeier en klits by die eiermengsel. Roer die sous oor matige hitte tot dit begin verdik. Verwyder van die stoof en klits die sous goed met ‘n eierklitser. Laat afkoel. Roer die mayonaise en room by. Hou eenkant.

 

Slaai

Braai die broodblokkies in diep olie tot lekker bros en bruin. Dreineer en laat goed afkoel. Meng die broodblokkies, kaasblokkies en agurkieskyfies in ‘n slaaibak.

Roer die slaaisous liggies by net voor opdiening anders word die broodblokkies sag.

 

Lewer 15 tot 20 porsies

==============================================================================

Ek onthou toe slaai nog geskilde tamatie snytjies was met gerasperde ui en dan het jy wit asyn en bruinsuiker gebruik as ‘n slaaisous met sou en peper

Onthou die gesukkel om die tamaties in kokende water en dan yswater te doop om die skille maklik af te kry. En as jy die slaai twee dae in die yskas gehou het het hy omtrent ‘n pint water getrek en amper soos ‘n ‘Virgin Mary” gelyk.

 

 

Aarbeitert

Aarbeitert

Kors

1 pakkie tennis beskuitjies en 1/2 koppie gesmelte botter

Krummel beskuitjies meng met botter en druk in bak as kors

 Vulsel

1 koppie suiker                                           1 koppie water

2 opgehoopte eetlepels mielieblom   2 groot eetlepels aarbeijellie

250g ryp aarbeie                                     125ml geklopte versoete room

2 opgehoopte eetlepels

 

Metode

Verhit suiker en water. Maak mielieblom aan met water en voeg by mengsel. Kook tot gaar en haal van stoof af. Voeg aarbeijellie by en roer tot gesmelt. Pak  ryp aarbeie lekker styf in kors en gooi warm aarbeivla daar bo-oor. Klits room styf en voeg suiker geleidelik by Versier tert daarmee net voor bediening

+++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++

Inspirasie van die aarbeiplaas op pad Stellenbosch toe met die vrolike en vermaaklike voêlverskrikkers. Jy betaal en kan dan self pluk. Ek was egter vir hulle ‘n verlies want daar het omtrent eweveel aarbeie in my kies en in die houer beland. Sal maar nie die week vir my skaal gaan kuier nie!