Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hun skowwe –
hul dra dit getroos en tevree.
En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna –
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.
Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe –
en ver is die tog van die dag.
Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdraans is ver en is swaar;
die knars in die knakkende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.
So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder ‘n held van die daad…
Hul bene, na swoeë en swerwe,
lê ver op die velde verlaat.
Jy laat my nou ver terugdink. My pa het nog as seuntjie met ‘n ossewa dorp toe gery. Hy het vertel dat hy die osse so jammer gekry het as hulle asem so fluit…
LikeLike
Ons het hierdie gedig as ‘n Voortrekker opgevoer in matriek. Daar sit ek toe by die “vuurtjie” (‘n flitslig onder ‘n rooi lap) langs die “wa” (‘n omgekeerde tafel met ‘n wit laken oor) en rook my pyp (darem nie aangesteek nie, maar net so vir die skyn trek ek so nou en dan ‘n vuurhoutjie), terwyl die Oom van die Voortrekkers die gedig lees in ‘n gewigtige stemtoon. Toe gaan die krag af en hy ken nie die gedig nie, kan ook nie lees nie, want dis donker en hy sluip oor die donker verhoog om my vuurhoutjies te kom haal vir lig. Die gehoor het geskater van die lag en die gewyde atmosfeer was daarmee heen.
LikeLike
Moes ook pyp vir een of ander konsert. Pa het so twee teelepels poeierkalk en talkum in die pyp gesit dan het elke nou en dan saggies geblaas en siedaar daar trek die wit rokie
LikeLiked by 1 person
Dis nou vir vir jou ‘n slim pa
LikeLike
Eintlik hartseer… soos selfs ons lewens is nê!
LikeLike
En behoede die dwarstrekkers wat nie aan die neus gelei wil word nie
LikeLike